Geskiedenis

Om en by 1902 is die ou Virginia-stasieskool by Linabo gestig waar dit omtrent 50 jaar net 'n plaasskool was.

Die dorpie Linabo is vernoem na Oubaas Lindsey (Vorige hoof van die skool) en Van Abo (Blykbaar afkomstig van Bothaville).

Eers in 1949 met die ontdekking van goud het die plaasskool vinnig begin groei. Met die instroom van mense het besighede ontstaan en in 1952 is die plaasskool se status na Junior Hoërskool verhoog.

Met die geweldige groei is die status in 1955 weer verhoog na 'n Hoërskool. Dit was ook die eerste jaar met 'n standerd 9 klas.

Op 19 Januarie 1955 is die Laer en Hoërskool ook as aparte skole bedryf. Die nuwe Virginia Hoërskool met 238 leerlinge het aangebly in die ou stasieskool se geboue. Eers 6 maande later (Donderdag 30 Junie 1955) het die Skool verskuif na erf 2183 binne die nuwe Virginia-dorp.

Ds. De Villiers (Voorsitter van die laaste skool kommissie) het die laaste afsluiting op die ou perseel gehou.

Met die begin van die tweede kwartaal op Woensdag 27 Julie 1955 is die nuwe geboue op die nuwe perseel dan amptelik in gebruik geneem.